Thabo is Tembisa se deur tot die internet

mobilewifi

Gratis internet vir skoolkinders, spazawinkels wat oornag in internetkafees verander en slimfoonaktiwiteite in township-vlooimarkte.

Dit is die suksesverhaal van die opkomende entrepreneur Thabo Malebadi (30), wie se e-Mbizo-onderneming die hele Tembisa, oos van Johannesburg, van internettoegang voorsien.

Malebadi het verlede jaar ’n WiFi-toring vir die hoërskool in Tembisa laat bou. Nou voorsien hy en sy span 60% van die hele area se internet teen spotgoedkoop tariewe.

“Ons is baie dankbaar,” sê John Aphane, die rekenaartegnologie-onderwyser by Tembisa High School, ’n skool met meer as 2 400 leerlinge.

“Dinge het baie moeilik gegaan, want ons het slegs één rekenaar met internettoegang gehad. Die feit dat dit nog gratis is ook, is ’n bonus.”

Malebadi sê hy moes mense laat oplei. Party van hulle het glad nie eens geweet hoe die internet werk nie. “Tweedens is daar die finansiële aspek, want dit is ’n uiters hoë risiko. Jy gaan nie dadelik die vrugte van so iets pluk nie.”

Verder ontbreek regeringshulp. Daarom nader sy onderneming self skole en het dit al by 31 skole WiFi-torings opgerig. Die diensverskaffer is Vox Telecom.

Vir die eerste ses maande het e-Mbizo gratis WiFi regoor Tembisa verskaf, maar nou is dit slegs skole wat nie hoef te betaal nie. Malebadi het sover byna al die skole in Tembisa van WiFi voorsien.

Pakkette vir die res van die publiek kan uitgeneem word teen R10 vir 24 uur, R60 per week en R220 per maand.

Sommige eienaars van spazawinkels het dié geleentheid aangegryp om rekenaars aan te koop en internetkafees oop te maak omdat die gemiddelde township-inwoner nie sy eie rekenaar besit nie.

In Tembisa (die naasgrootste township in Gauteng) is daar sowat 2 500 internetgebruikers onder meer as ’n halfmiljoen inwoners.

Tembisa High het nou al deur eksterne borgskappe drie internetlaboratoriums met altesame 100 geborgde rekenaars, asook ’n hele klomp iPads.

Dit is ’n algemene gesig om tydens pouse of ná skool te sien hoe kinders met hul selfone en oorfone onder die toring kom staan om musiekvideo’s te kyk.

“ ’n Mens kan nie dié kinders afskeep nie,” sê Malebadi. “Die groter gemeenskap is nog nie ordentlik opgevoed vir internetgebruik nie. Hulle weet nie wat gratis internet presies vir jou kan beteken nie, en dit maak dit ’n uiters groot inisiatief.”

Malebadi self kom van Germiston en het inligtingstegnologie aan die Tshwane-universiteit vir Tegnologie studeer en later sakebestuur aan Unisa.

Volgens Malebadi begin hulle voor einde vanjaar met nog so ’n projek in Alexandra en voor 2014 verby is, wil hy graag e-Mbizo na Soweto uitbrei.

Angelina Pale en Kholopelo Metshivale is twee van Tembisa High se leerlinge wat deesdae saam met hul maats die skool se iPads benut.

WiFi-koning! Thabo Malebadi van e-Mbizo .

Source: Media_24/RH Rapport

Leave a comment